Daniel Hugo dra verskeie baadjies: digter, skrywer, vertaler, redakteur, manuskripkeurder en taalpraktisyn. Hy deel sy lewe en passie met ons.
Agtien digbundels, verskeie vertalings uit Engels en Nederlands en akademiese publikasies. Geen wonder die toekennings stroom in nie.
Daniel Johannes Hugo is in 1955 in Stellenbosch gebore en tans woonagtig in Prins Albert. Hy is getroud met die vryskutredakteur en eienaar van Turksvy Publikasies, Marlene Malan.
Hy verwerf sy BA Honneurs (Afrikaans en Nederlands) aan die US, meestersgraad aan die UP en doktorsgraad aan die UOVS. Hy studeer ook nagraads aan die Katolieke Universiteit van Leuvren, België. Tussendeur was hy onderwyser, lektor, radio-omroeper, asook uitgewersredakteur by Pretoria Boekhuis.
Uitstaande prestasies: Verskeie ATKV-radiotoekennings vir omroeper, onderhoude en dokumentere programme, die Ewijk-stigting se prestasiebeurs en akademiese pryse vir sy skryfwerk.
V : Wanneer het jou eerste digbundel verskyn?
A : 1982. Korte mette. Klinkklaar is my laaste bundel wat met die ATKV-woordveertjie bekroon is. (2021)
V : Het jy enige gunstelingtemas waaroor jy dig?
A : Die natuur, liefde, dood en die digkuns self.
V : Waar kom jou idees vandaan?
A : My persoonlike ervarings en die taal self dien as inspirasie.
V : Het jy ooit enige skryf-of digkunskursusse gedoen?
A : As derdejaarstudent op Stellenbosch het ek D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium bygewoon as deel van my BA-kursus. Dit was die enigste.
V : Verg digkuns ook navorsing soos byvoorbeeld by ’n roman of niefiksie?
A : Soms, maar in ’n mindere mate. Gelukkig is dit deesdae baie maklik om inligting op die internet te kry.
V : Jy is al ’n ervare skrywer. Sluip skrywersblok soms in en hoe hanteer jy dit?
A : Anders as ’n romanskrywer, werk ’n digter nie volgens ’n skedule of roetine nie. Ons kan rustig wag tot die inspirasie of muse haar verskyning maak.
V : Nuwe skrywers/digters vind dit moeilik om ’n voet in die deur by uitgewers te kry. Is daar ’n towerstaffie hiervoor? Enige raad aan nuwelinge?
A : Die enigste towerstaf is geduld en volharding.
V : Watter digters inspireer jou?
A : In Afrikaans, definitief D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Ina Rousseau en Johann de Lange. In Nederlands Gerrit Komrij en Herman de Coninck. In Engels Thomas Hardy en Robert Graves. Ek het gedigte van hierdie digters in Afrikaans vertaal.
V : Hoe hanteer jy kritiek op jou werk?
A : Ek het ’n dik vel.
V : Jy tree as vryskutredakteur vir Turksvy Publiseerders op, breinkind van Marlene Malan. Hoe weet jy of ’n manuskrip wat op jou lessenaar beland, gaan werk of nie?
A : Wanneer ek ’n manuskrip beoordeel, is die belangrikste vir my of die skrywer die taal korrek en tog vars en vernuwend kan gebruik. Aan die inhoud kan altyd geskaaf en getimmer word.
V : Behalwe boeke en skryf, wat prikkel jou nog ? Waarmee hou jy jouself besig?
A : Ek braai graag. Vuurmaak is ’n oerterapeutiese handeling met ’n religieuse dimensie: dit bring offerandes.
V : Wat is die belangrikste raad wat jy al ooit gekry het met betrekking tot jou skryfwerk?
A : Lees so veel en so wyd moontlik.
V : Is daar nog ’n droomprojek wat lê en wag?
A : Ek probeer nog daagliks die perfekte gedig skryf.